July 8, 2020

Geestesgesondheid

Niemand is meer verantwoordelik vir jou geestesgesondheid as jy self nie.

Ek het ‘n absolute goor dag by die werk gehad. Dit was niemand se skuld nie, niemand kon dit BETER gemaak het nie. Soos altyd aanvaar ek die verantwoordelikheid dat alles reg loop en wanneer dinge begin hak, loop alles afdraend.

Vanaand klim ek vroeg in die bed en die besef tref my dat my medewerkers nie verantwoordelik gehou kan word dat MY dag wat skeef loop nie, dit is HULLE dag ook. Maar ek hoef nie die volle verantwoordelikheid vir die afdraende vat nie. Dit is nie hulle verantwoordelikheid om my gelukkig te hou nie.

Môre is nog ‘n dag. Ek pak dit maar weer aan. Maar vanaand drink ek maar ‘n slaappil en probeer rus inkry.

May 30, 2020

Covid stilte

Nee ek is nog hier. Jinne die covid het absoluut alles deurmekaar gekrap. Ek was nog altyd baie gemaklik op my eie, maar nou begin ek mense te mis.

April 4, 2020

Kwarentyn grendeltyd watookal ..

…. is rustig en kalm en nes ek gewoonlik vakansie hou met die een verskil: dat ek tussenin werk ook. Van die huis af.

Maar ek braai …

… en ek slaap ..

….. en ek is regtig okay.

March 30, 2020

Kwarentyn tyd

Oral is mense besig om op bakkiesboek hulle kwarentyn tyd in foto’s uit te beeld. Want hulle gaan blykbaar van hulle varkies verloor gedurende die afsonderingstydperk.

Ek spandeer elke vakansie so. Afgesonder. Net ek en Mica en my foon en my boeke. Ek skakel die radio aan en luister radiodramas, musiek, geselsradio. Ek laai batterye. Vir my is dit hemels.

Gewoonlik moet ek myself dwing om uit te gaan. Die kar se battery is gewoonlik so ongebruik ek moet dit amper laat tou.

Hierdie rustigheid is hoe ek my lewe sou wou spandeer. Ja die interaksie is seker nodig maar is dit nie hoe meeste mense hulle tyd op plase spandeer nie? Jy hou jouself besig. Jy vind goed om jouself in te vergeet. Dit sluit rondry en wyn drink en uiteet nie in nie.

Heerlik. Dit is hoe ek hierdie situasie ervaar.

Met ‘n skoot keeltoetrek oor die virus wat amok saai in ons gemeenskappe omdat ons tog laat slaplê het want ons verwag tog dat iemand anders verantwoordelikheid moet neem vir skoonmaak.

Ek drink getrou Vit C, Vit D bruispille om hoesies en kuggies op hulle plek te hou. Ek skrop getrou die vloere elke dag al stap net ek en Mica daarop. En ek verstaan ook hoekom mense van oor die groot waters skoene by die voordeur uittrek en met pantoffeltjies deur die huis stap. Dink ek gaan dit ook nou begin doen 🤣.

Alles wat mooi is vir almal.

March 8, 2020

Vier poot genoot

Mica. Die katkind. Wat my soms grys hare nog gryser laat word. Wat soms 5h in die oggend aandag soek. Wat nie alle soorte katkos eet nie.

Wat my laat onthou het dat ek moet opstaan. Leef. Asem haal.

Die katkind.

February 26, 2020

Letting go

God blesses those who mourn, for they will be comforted. Matthew 5:4

En ek besef hierdie twee het ‘n verband. Mens moet kan rou oor gebeure, oor iemand. Dit is DAN dat jy kan laat gaan. Want jy moet laat gaan om ‘n vol lewe te kan leef.

February 16, 2020

Nostalgie

Sondagoggend musiek. Kerkorrel musiek wat nostalgies in mens se hart kom sit. Skotse doedelsakke wat roer en jou wegvoer. Raak ek nou oud?

February 15, 2020

2020

Dit is al Februarie maar dit beteken nie ek kan nie planne maak nie. My tweede Parkrun is agter die rug en ek het myself voorgeneem ‘n minimum van twee per maand. Want voor die einde van die jaar wil ek dit draf. Nie net stap nie. Draf.

Alles moes bad na die tyd.
December 26, 2019

Wense

Wat ‘n heerlike Kerstyd was dit nie met beide my kinders by my. Ons het heerlike herinneringe gemaak. Gelag. Gesels. Gepraat. Geslaap. Te veel ge-eet. Op my ouderdom maak geskenke nie saak nie. Samesyn wel.

Albei is weer terug na hulle eie blyplekke toe, ek sit met ‘n yskas vol oorskiet waaraan ek tot in die nuwe jaar kan knibbel.

December 25, 2019

Geseënde Kersfees

Design a site like this with WordPress.com
Get started