June 5, 2017

Finaliteit

Op ‘n vlug oppad JHB toe. Mense skryf boeke oor sulke gebeurtenisse in hulle lewens. Bladsye en bladsye vol herinneringe gepak met emosie. Ondersoek hulself en die impak van die gebeurtenis op hulle lewens. Van kinderdae tot nou tot toekoms in. Stuff are made of this.

Ek sukkel met die emosie hiervan. Ek cope net. Gaan net aan. Staan vroeg op om te gaan werk. Antwoord die telefoon soos altyd, sit my beste sekretaresse voetjie voor. Praat net nie oor die hele ‘gebeurtenis’ nie. Soos met my ouers se dood. Wat sê mens en wat laat jy uit? Saans sit ek die TV aan, maak Milo, voer Mica, kyk wat FB uitspoeg, stort en drink my slaappil. Anders sien ek die son opkom.

Vriende en kennise weet ek gaan JHB toe. Vir ‘n begrafnis. En dan slaan ek soos ‘n boek toe. Ek wil nie sê dit is my Kleinboetie s’n nie. Kon dit nie maar vir iets anders gewees het nie? Kon dit nie maar ‘n vreemdeling se begrafnis gewees het nie?

Gisternag deel ek die nuus op FB. En haal dit na ‘n halfuur weer af. Ek kan nie dit so uitbasuin nie. Ek weet dit is nie ‘n skande nie, skande is elk geval relatief tot elke persoon se omstandighede,  maar ek kan nie daardie finaliteit gedeel kry op FB nie. Mense deel tans te veel gemors daar en dit voel asof hierdie te na aan eie siel sny.

Ek is oppad om vir Kleinboet te gaan totsiens sê. Hy was ‘n moeilike knaap. Met sy bipolêre gemoedstoestand en neiging tot narsisme het ek en hy ver uitmekaar gedryf. 

Iewers is daar ‘n groter gat in my volkomendheid. In my opset. In my daaglikse denke en wese. 

May 31, 2017

Eens was daar vier

My kleinboet is gisteroggend in die ouderdom van 51 oorlede. 

Ek bly toe tuis die dag, oë is buitendien opgeswel soos balonne van al die huil, en kry so 2h se kant bietjie slaap in.

Skrik net mooi 30 minute later wakker met die wete wat deur my flits. Ons was vier kinders. Nou is ons drie. Die vierde een gaan nie terugkom nie. Dit is nie net ‘n droom nie. Dit is regtig so. Hy is weg.

April 28, 2017

Kuiertjie weg

Ek gaan bietjie by vriendinne kuier die naweek. Daar is ‘n ‘maar’ in hierdie hele sin weggesteek want hier is niemand om na Mica te kyk nie. En ewe skielik wonder ek hoekom ek ja gesê het vir die kuiertjie. Ek hou van my plek, ek is gemaklik in my huis. Een dag uit is reg. Maar langer? Dan mis ek my plek en my kat en my bed. Ek gaan nog een van daardie ou mense wees wat net uitgaan om kos te gaan koop, net as dit nie afgelewer kan word nie.

April 17, 2017

Een jaar ouer

Die jare vlieg nou. Een jaar ouer en tog voel ek dieselde. My kinders het my erg bederf met ‘n mani/pedi en ook facial. Ek het soos ‘n ryk vrou gevoel.

Sus was op verlof in Botswana en ek moes Ouboet al die 10de op die lughawe gaan aflaai vir sy trippie terug VSA toe. 

Volgende jaar verjaar ek weer. Elke jaar se ding die.

April 17, 2017

Paastyd

Ek was jare laas in die kerk. En deesdae ruim ek min tot geen tyd in om Bybel te lees of te bid. Ek vra te veel vrae waar ek nie antwoorde kry nie. Niks oor hartseer of waar my lewe heen gaan nie. Meer oor hoe ons eintlik ‘n joodse geloof aanhang. Christene kan dan mos eintlik ‘convert’? 

Paastyd vier het ek nie gedoen nie. Ek wonder waar die skuif in my lewe gebeur het dat ek nou so op my eie leef. Dalk die jare se gespartel en gespook om kop bo water te hou wat my afgestomp het. 

February 20, 2017

Pensioen

Ek kyk na die ouetehuis langsaand en daar is so ‘n beklemmendheid in my oor my pensioen. Daar sal nie genoeg pensioen wees om enigsins aan die lewe te bly nie. Ek nader die ouderdom waar my ouers oorlede is, was dit een van die redes waarom hulle liewers wou weg? 

Ek weet nie. Ek weet net ek is bekommerd oor my aftrede. Ek is 54, ek sal nou meer moet insit. Meer, wat ek waar kry? My salaris dek net my uitgawes tans. 

Sien. Daar kom die beklemming weer en dan is dit nog Maandag ook.

January 5, 2017

Nuwe leefstyl

Curves aanvangsafspraak – check

Onderklere wat steun – check

Broek wat lekker lig is vir oefening – check

Tekkies – uhm, die stapskoene sal vir nou moet doen

Dit is nou tyd. Hou duimvas vir my!

January 4, 2017

Vakansie

Hele paar nagte gevul met vreemde drome wat so ‘n ongemaklike nasmaak laat. Vir die eerste keer in ‘n lang, lang tyd onthou ek nie die droom nie slegs die gevoel wat dit laat. Soos ‘n slegte nasmaak. So ‘n ongemaklike gevoel. En dit alles gedurende my vakansie. ‘n Tyd waar ek eintlik moet rus …

Koffie mag dalk help … ek wonder net oor die gedromery. Verseker het ek NIE ‘n swak 2017 nodig nie maar as ek nou gaan op die emosies waarmee ek sit na die drome is my hoop gevestig op die wen van die Lotto om bietjie stres te breek.

January 1, 2017

2017 …..

“It is more difficult to undo than to do – measure twice, cut once.”

January 1, 2017

God se seën

Ek vang toe nie die eerste keer waar die teksvers vir die erediens vanoggend nie en slaan toe my Bybel oop in Numerie 23:19-20.

Dit is toe eintlik Numerie 6 vers 24 – 26

En my hart kry so ‘n lekker gevoel met die verstaan van wat God eintlik vir my sê. Hy sal nooit my seëning, alreeds belowe, afgemeet en toegeken, verander of terugtrek nie. Ek is die een wat dit nie verstaan en met beide hande en ‘n oop hart aanvaar en aangryp nie. 

Ek is bly Sy Gees het my die skrifgedeeltes andersom laat lees. Die afgelope tyd het ek begin twyfel, erg twyfel.

Die Here is met my.