Posts tagged ‘friends’

September 26, 2011

wat ‘n naweek!

Vriendinne het die naweek kom kuier sodat ons Die Naaimasjien deur Sandra Prinsloo in Die Boer kon gaan kyk. Belewenis vertel ek julle. Buiten dat ek nie REGTIG lus was vir soveel mense in my onmiddellike omgewing nie, dink ek was ek taamlik vrygewig met my ruimte.  Ons het weer soos sardiens langs mekaar op ‘n tafel van 10 gesit en ek kon natuurlik nie vir Sandra sien nie, een van die dames (wat werklik toe stewiger as ek in haar skoene staan) het so ‘n bietjie die uitsig geblok. Ek kon net die een kant van die naaimasjien sien en die ander kant van die kas regs op die verhoog.  Die gedeelte tussen was ‘n donker kol.

Gister het ons op die strand gaan sit soos dassies, en toebroodjies ge-eet.  Ons velle het skoon geskrik vir die son.  Alles was in die rugsak, liters water, sonbrandmiddel.  Sus was slim. Sy wou nie wit bly nie (ligbruin vet lyk beter as wit vit – volgens haar), en gisteraand het sy gesit met ‘n kreef gesig.  Sy glimlag nie te wyd en syd nie.

Saterdagaand het die henne na die opvoering bymekaar gekom en my goed geroskam oor die eks.  Waarom ek kontak behou (en behou nie, het hom net eenkeer weer gekontak en gevra vir my geld, daar die mislike korrespondensie), en waarom ek tot dusver nog nie ‘n bevel teen hom gekry het nie.

Ek was tot die siel toe moeg toe ons uiteindelik in die bed klim.  Asof ek my besluite heeltyd moes verdedig.  Asof hulle raad beter is as my besluite.  Asof hulle van beter weet.

Seker die dat ek vanoggend so uit koers is.  Ek was gister al uit koers toe ek en een vriendin moes ry tot by Panorama hospitaal sodat sy tweede vriendin kan optel.  Selfs die besef dat sy van die platteland kom en nie gewoond is aan bestuur in die Kaap, het nie die ongeduld kon temper toe sy elke keer die stuurwiel ruk wanneer sy verboureerd raak nie. En dit is nie haar skuld nie.  Ek vermoed ek sou baie meer geduld aan die dag gelê het as ek nie die vorige aan deur hulle gemarineer en gebak was nie.

Vanaand Divorce Care en die gesprek gaan oor seks.  Seks.  En met wie wil ek dit nou nogals doen?  Nie eens die mees aantreklikste man kry my sover om daardie tinteling te voel nie.  Maar ons gaan oor seks gesels.  So, ek moet myself maar voorberei.  Selibaat pas my nou uitstekend, dankie.

Hierdie ongeduld.  Hierdie ongeduld spruit uit moeg wees.  Moeg moeg moeg.  Van te min slaap.  Ek het mos die slaap patroon van ‘n baba.  Wakker elke 2 ure.  Ek het net nie ‘n voeding nie.