
….slaap en lui wees is lekker.
Just another WordPress.com site
Niks so lekker soos om op ‘n koel oggend te kan inlê nie. Snoesig onder jou duvet.
My bed is nogals my lekker plek. My huis my veilige hawe. Ek kan nie wag om saans onder die lakens in te kruip nie.
Snoesig. Knus. Ek bly sommer heel dag in die bed. Kos? Wie het dit nou nodig? 🤔
59
Dit is hoe oud ek die jaar is. Met my volgende verjaarsdag sal ek een jaar ouer wees as wat my Ma was tydens haar dood.
Die lewe is nie altyd regverdig nie. Ek gaan dit nie voor God se deur plaas nie want die MENS het ‘n wil en ‘n keuse. Soms sien mens nie verby die berg nie. Jy sien nie buite duisternis nie.
Ek weet. Ek was al daar en soms sluip die donkerte in my siel rond. Dit kos baie ligte aansit om dit te laat wyk.
Hoe anders sou die lewe nie gewees het as sulke donker dinge nie gebeur het nie.
Ek onthou hoe ek op laerskool gewens het dat ek ‘n ander familie kan kry. Ander ouers. Wat lief is vir my. Ek het daardie gevoel eers verlede jaar kon verwerk en myself begin aanvaar.
Wat ‘n pad om te loop.
Ek kom gister tot die besef dat my ma op 58 oorlede is.
Ek is 58.
Ek kyk na van haar laaste foto’s en mens kon die swaar op haar gesig sien.
Op 58 wil mens eintlik nog baie dinge doen. Sy was lewensmoeg op daardie ouderdom.
2021 het voluit begin, het al skoon ‘n spasma in my nek soos ek werk. Eintlik dink ek dat ek verkeerd sit by die werk die dat my nek aan die regterkant spasma maak.
Ewenwel, ek is al aan die gang. Mag ons 2021 beter verstaan as wat ons 2020 enigsins verstaan het.

Ek wil 2020 vaarwel toeroep, arriewarrie aan ‘n jaar waar sommige mense erge swaarkry ervaar het.
Waar ek myself weer leer ken het en dit was nie altyd lekker nie. Ek is nie die beste vriendin op hierdie aarde nie. Ook nie beste Ma nie. Daarom is ek innig dankbaar oor al die liefde wat ek onvoorwaardelik ontvang.
Die CoViD en beperkings is nie goed vir my geestestoestand nie. Ek het ‘n taamlik lam- en tamheid oor my. As ek kon lê het ek dit sommer heeldag gedoen.
Ja ek het my medisyne in. Drink dit getrou.
Die maan het gisteraand weer kom wink.

Ek het gisteraand gedroom ek het covid onder lede. Seker omdat ek myself wakker gehoes het. In my droom flits dit deur my gedagtes dat ek my longe moet oop kry, daar is ‘n benoudheid en slym. Daar is so ‘n gelatenheid wat deur my syfer dat dit nou maar so is. Dit is nou klaar. En ek hoop ek het genoeg gedoen.
Mica het styf teen my kom lê toe ek weer wegdommel.
My 70-jarige neef is net voor die Christusfees aan CoViD verwante oorsake oorlede, hy het erg gesukkel om asem te haal hier teen die einde. Soveel so dat hy onder paniekaanvalle gebuk gegaan het. En ja, hy en sy vrou was ekstra versigtig. Maskers gedra. Ontsmet. Geen groot groepe. En tog het beide hy en sy vrou dit gekry.
Ek sal nooit weet of ek genoeg gedoen het nie maar ek stuur daagliks gebede na Bo om te pleit dat ek en die kinders gespaar word. Oudste het al sy skoot in die VSA weg, gelukkig nie sy longe aangetas nie.